‘n Ander soort juk

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:28-30)

Ons Rabbi roep ons op met die woorde “leer van my”. ‘n Groter voorreg kan daar sekerlik nie wees om onder Jesus se hande geneem te word nie. Daardie voorreg is ook vir my en jou beskore. Kom ons ondersoek wat hierdie oproep alles behels…

Die perikoop begin met een van Jesus se vele karaktertrekke wat Hom so geliefd maak – sy inklusiwiteit. Kenmerkend aan Hom, sluit Hy niemand uit nie. Hy nooi álmal uit wat vermoeid en belas is. Álmal is welkom – selfs mense wat op so ‘n laagtepunt beland het deur hulle eie toedoen.

Die bankrotskap van wettisisme

Daar word nie gespesifiseer wat die oorsaak van iemand se uitgeputte oorlaaidheid moet wees nie. Mense mag dus vanweë verskillende redes op ‘n plek beland het waar dit vir hulle voel of hulle aan die einde van hulself gekom het. Tog was die eerste hoorders van hierdie woorde, mense wat slagoffers van die Fariseërs se wettisisme was. Daar was aan hulle voorgehou dat hulle godsdienstig moes presteer om deur God aanvaar te word. Dit was mense wat probeer en probeer het, maar nooit goed genoeg was nie. Godsdiens het hulle opgebruik en uitgespoeg. Hulle was op die punt om moed op te gee omdat hulle begin glo het dat ‘n verhouding met God, seker maar vir ánder mense bedoel was.

Wanneer ons lees dat Jesus sê “Kom…”, sien mens in jou verbeelding hoe Jesus met ‘n handbeweging ‘n skare mense nader roep. Miskien het hulle gedink dat Hy net soos die ander Fariseërs net nóg reëls op hulle wil pak? Baie van ons dink immers so.

Dit is presies om hierdie rede waarom Jesus dit nodig vind om Homself te beskryf. Hy sê van Homself: “Ek is sagmoedig en nederig van hart”. Hierdie woorde is betekenisvol omdat Hy so gans anders is as die ander religieuse leiers wat oor God gepraat het.

Die wêreld hou aan ons ‘n prentjie voor wat sê: As jy suksesvol wil wees, moet jy hardvogtig wees en nie skroom om jou weg oop te veg nie – selfs as dit beteken dat jy op ander mense moet trap. Ongelukkig dra ons dikwels daardie prentjie onbewustelik ook op God oor en dink ons ook aan Hom as ‘n wese wat ongenaakbaar is en daarop uit is vir eie gewin. Jesus konfronteer daardie beeld wat ons van God het. Jesus sê: “Ek is sagmoedig en nederig van hart

Interessant genoeg gee Paulus dieselfde karakterskets van Jesus. Paulus skryf: “In die Naam van Christus – wat nederig en vriendelik is – vra ek julle…” (2 Kor 10:1). Nederig en vriendelik – as dit ál was wat ek van God geweet het, dan het ek van Hom gehou.

Hoe “leer” mens van Jesus?

Maar kom ons keer terug na ons aanvanklike vraag. Ons Rabbi sê: “leer van my”. Hoe gebeur dit? Hoe kan ook óns by Jesus leer? Ons sou drie maniere kon uitlig.

1.) Leer van Hom, in verhouding met ander.

Die kultuur waarin ons leef verheerlik individualisme en outonomiteit. Die hartseer is dat die media ons al gekondisioneer het nog voordat Jesus ons kon dissipelleer. Omdat ons met die waardes van die een en twintigste eeu gebombardeer word, is ons blind vir die waardes van die eerste eeu.

Die Westerse gesekulariseerde “bril” waarmee ons Jesus se woorde lees, maak dat ons Jesus se uitnodiging in die enkelvoud hoor. Jesus roep “my”. Hy nooi “my” uit. Hy gee vir “my” rus. Maar Jesus se woorde is aan die meervoud gerig. Het jy gesien dat die woord “julle” vier keer in hierdie drie verse voorkom?

Dit is belangrik om te sien dat as ek van Jesus wil leer, gebeur dit nie in isolasie van ander mense nie. Mens leer van Jesus, dikwels te danke aan ander dissipels wat saam met my onder sy juk staan.

2.) Leer van Hom, deur langs Hom te loop.

Wanneer osse ingespan was, was dit die gebruik om ‘n jong onervare os onder die juk van ‘n ouer meer ervare os in te span. Twee jong onervare osse onder dieselfde juk, wil elkeen sy eie koers inslaan en kort-kort uitbreek. Maar ‘n ervare os weet presies wat daar van Hom verwag word. As ‘n jong enetjie onder sy juk inkom, leer die nuweling vinnig die bevele ken. Al wat hy hoef te doen is om in pas met die ervare os te bly.

Jesus nooi ons om onder sý juk te kom staan. Jesus nooi ons om lángs Hom te kom loop. Hy nooi ons om sy ritme te leer ken. Dit impliseer natuurlik dat ons tyd met Jesus moet spandeer. Ons kan nie in pas met Hom kom, sonder om tyd met Hom te spandeer nie.

‘n “Juk” is in die Bybel ‘n metafoor vir die gesag of outoriteit wat iemand oor jou het. En dit is miskien belangrik om hier te noem dat die lewe waartoe Jesus ons roep nie sonder ‘n juk gepaardgaan nie.

Toe ek ‘n jong gelowige was, was ek so getref deur alles waarvan Jesus ons bevry het, dat ek dalk nie aldag ten volle besef het dat Hy ons ook tot ‘n “juk” roep nie. Ek was so oorstelp van die godsdienstige gewig wat Hy van my skouers afgehaal het, dat ek nog nie bewus was van die verpligtinge en verantwoordelikhede wat saam met daardie voorreg kom nie.

As Jesus sê sy juk is “sag” en sy las is “lig” –  dink ek het ek onbewustelik gedink sy juk is soos spons. Dit sit gemaklik. Hy maak die lewe vir my gerieflik. Vandag dink ek dat ek in daardie tyd onwetend ‘n skoen aangetrek het, wat sosioloë “moralistiese terapeutiese deïsme” noem. Dit is ‘n soort godsbeskouing wat glo dat God eintlik niks van iemand verwag nie. Sy grootste wens is dat jy gelukkig en tevrede oor jouself sal voel.

Dit was eers later in my verhouding met Jesus, wat ek besef het dat dissipelskap definitiewe kostes van my vra. Jesus se juk kom nie sonder inspanning nie. Dissipelskap impliseer dissipline. Soms het Jesus se juk, distansiëring van sonde en gevolglike verwerping deur vriende beteken. Gaandeweg het ek ontdek dat God nie my dien nie, maar ek Hóm – en een van sy gunsteling maniere waarop Hy wil hê ek uitdrukking daaraan moet gee, is om liefde aan my medemens bewys. Om mense lief te hê is nogal moeite. Kortom: Laat niemand die indruk skep dat Jesus se juk kosteloos en maklik is nie.

Dallas Willard het geskryf: “Grace is not opposed to effort, it is opposed to earning. Earning is an attitude. Effort is an action”. Dit is hier waarin die andersheid van Jesus se juk lê: Die inspanning wat dissipelskap verg, is nooit daarop gemik om Jesus se goedkeuring en aanvaarding te verdien nie. Dít het Hy reeds vir ons gegee.

3.) Leer van Hom, deur na sy woorde te luister.

Dit is opvallend dat Jesus sê: “Kom na Mý toe”(akuut is my eie). Hy sê nie: “Sluit aan by My Kerk” nie. Hy sê nie: “Lees ‘n dogmatiek handboek wat oor My handel” nie. Hierdie dinge is wonderlik op sigself, maar ons bevind onsself in ‘n tragiese toestand as dit ‘n substituut vir Jesus word.

As mens Jesus se woorde “Kom na Mý toe” soos ‘n refrein in jou mond rond rol om dit te oordink, dan is dit asof die persoon van Christus al groter en groter in jou geestesoog word. Jy begin Jesus sien vir wie Hy werklik is. En skielik lyk jou teologiese kennis en kerklike betrokkenheid – of enige ding wat jy as plaasvervanger vir verhouding met Jesus verwar – jammerlik klein in vergelyking met Jesus sélf.

Nee, Jesus is nie meer vandag fisies by ons teenwoordig nie. Maar deur sy Gees is Hy wél. Die gevaar is sekerlik dat ons ‘n “jesus” kan visualiseer, wat bloot ‘n produk van ons eie verbeelding is. Om te verhoed dat dit gebeur, plaas ons ‘n baie hoë premie op sy woorde. As jy iemand wil leer ken, dan luister jy na wat die persoon sê. Dieselfde geld vir ons verhouding met Jesus. As ons ons met Jesus se woorde besighou, is dit onmoontlik dat ons in wensdenkery verval.

Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het” (Joh 15:3). Jesus vorm sy dissipels deur dit wat Hy vir hulle sê. Anders gesê: Ons kan nie as dissipels van Jesus gevorm word, as ons nie blootgestel word aan dit wat Hy gesê het nie. Daarom is dit nodig om – bo en behalwe die daaglikse lees van die res van die Bybel – konstant met Jesus se woorde besig te wees.

Dit is dan ook die primêre mikpunt met www.ChristusVictor.co.za Die enigste manier hoe Jesus ook in óns lewens oorwinnaar sal wees, is as ons na sy woorde luister. Daarom is ons baie intensioneel daaroor om dit wat Jesus gesê het, te lees, te oordink en te gehoorsaam.

Só ‘n onderneming, vra natuurlik baie van ‘n mens. Omdat ons baie bewus is van ons eie feilbaarheid, weet ons dat ons so ‘n reis nie met ons eie kragte kan aanpak nie. Ons gaan baie moet steun op die leiding van die Heilige Gees. Jesus het gesê die Heilige Gees “sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”. (Joh 14:26)

Dit is baie maklik om selfs met die lees van Jesus se woorde, in wettisisme te verval. Dit kom so natuurlik vir ons om gehoorsaamheid aan God te eksternaliseer en gelyk te stel aan die nakom van uiterlike “moets” en “moenies” – sonder dat dit ooit ons innerlike besny. Om te voorkom dat so ‘n duisternis ons harte oorval, gaan ons die Heilige Gees moet vertrou dat Hy deurgaans die kollig op Jesus sal plaas. Ons vertrou die Heilige Gees dat dit nie net ‘n kliniese oefening sal wees wat ons verstand stimuleer nie. As Jesus waarlik verheerlik word, is dit onmoontlik dat ons harte onaangeraak bly. Soos die Emmausgangers van ouds, sal ons ook sê: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”’ (Luk 24:32)

Die Belofte…

Jesus maak in ons perikoop ‘n baie brawe belofte. In die drie verse, belowe Hy twee keer dat iemand wat saam met Hom onder sý juk inklim, “rus” sal vind. Die belofte van rus, herroep natuurlik dadelik in ons gedagtes die bekende Psalm 23 van die Goeie Herder wat sy skape na rus lei.

Psalm 23 se implisiete betekenis is dat “Yahweh” (die Here), die Goeie Herder is. En daarom is dit noemenswaardig dat Jesus nie hier sê dat dit “die Vader” is wat rus gee nie, maar Hyself. Was Hy besig om hier op ‘n subtiele manier Homself as Yahweh te identifiseer? Het Hy hier gesuggureer dat Hy God is? Net God kan immers rus vir ons siele gee?

In ieder geval, Jesus belowe dat díe wat onder sy juk kom, hierdie rus sal vind. Hierdie rus verwys natuurlik nie na die afwesigheid van werk nie. Dit verwys na gemoedsrus of die vrede wat iemand kan beleef, omdat die persoon verseker is van God se liefde en aanvaarding – en wéét dat sy of haar saak met God reg is.

Ten slotte

Dit kan nogal sinvol wees as mens net vir oomblik oor die werkwoorde in hierdie perikoop nadink. Daar is vier werkwoorde wat op ons van toepassing is: “Kom”, “neem”, “leer” en “kry”.

Die oproep “leer van my” was die werkwoord wat hierdie hele ondersoek ingelui het. “Kom na My toe” is Jesus se inklusiewe uitnodiging waarna ons gekyk het. “Julle sal rus vind” is die gevolg wat met ons gebeur as ons aan Jesus se woorde gehoor gee. “Neem my juk op julle” is die enigste werkwoord wat oorbly.

Dit is treffend dat die opneem van Jesus se juk, ‘n vrywillige aksie is. Jý “neem” die juk op – óf jy neem dit nie op nie. Jesus forseer niemand onder dit in nie. Dit is jou eie besluit of jy Hom genoeg vertrou om saam met Hom onder daardie juk in te klim. Wil jy nie nou daardie besluit neem dit vir Hom sê nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *